AHi verwelkom opening van toerismebedryf en versoek verskerpte aksies

AHi News - Tourism

Die AHi Wes-Kaap verwelkom die aankondiging wat deur President Cyril Ramaphosa op Woensdag, 11 November 2020 rakende die Covid-19-regulasies gemaak is. Gedurende dié toespraak het hy die nuus gedeel dat nóg verdere verslappings van sekere Vlak 1-regulasies in werking sal tree.

“Dit is veral die ekonomiese besluit om die internasionale toerismebedryf ten volle te open, waaroor ons verlig is,” het Cilliers gesê.

“Internasionale toerisme dra by tot die ekonomiese groei van die grootste ekonomiese

bedryf in die Wes-Kaap, naamlik ons toerismebedryf,” het hy verduidelik. 

Cilliers het verder verduidelik dat besighede in dié bedryf ’n afname van tot 80% in hul inkomste oor die afgelope 230 dae van nasionale inperking ervaar het.

“Hierdie besluit sal bydrae tot groot verligting in dié industrie oor die feeseisoen gedurende Desember en Januarie,” het hy gesê.

Ramaphosa het die ramptoestand van die Covid-19-pandemie verleng tot Dinsdag, 15 Desember 2020.

“Daar lê ’n uitdagende tyd voor met baie druk op die toerismebedryf om hulself weer te posisioneer en te herstel van die knou wat die pandemie tot gevolg gehad, maar ons is baie positief,” het Cilliers gesê.

Die algehele heropening van die drankbedryf word ook deur die AHi verwelkom.

“Wynplase kon nie optimaal oor naweke funksioneer nie, want ook húlle was nie toegelaat om wyn vanaf die plase aan besoekers te verkoop nie,” het Cilliers verduidelik.

Volgens Cilliers sal die verlenging van Covid-19 se TERS-befondsing vir die tyd tot en met 15 Oktober ook veral die toerisme- en gasvryheidbedryf, wat restaurante insluit, baie help om gereed te maak vir die vakansieseisoen.

Sekere areas in die Wes-Kaap is geïdentifiseer as brandpunte en die President het gemaan dat daar ekstra versigtig opgetree sal moet word en dat alle Covid-19-regulasies en maatreëls gevolg moet word. 

“Vinnige aksie en slim optrede van die Wes-Kaapse regering en veral besighede in die Wes-Kaap het bygedra dat ’n grootskaalse Covid-19-pandemie afgeweer is. As ons almal saamwerk en by die regulasies hou, sal ons dit kan handhaaf,” het Cilliers verder gesê.

“Ons as die AHi wil graag ’n beroep op almal doen om asseblief aksies en protokolle te verskerp om te verseker dat die virus nie in die werksplek  versprei nie. Daarmee saam wens ons alle besighede ’n voorspoedige laaste twee maande van 2020 toe,” het Cilliers gesê.

Die AHi wil graag kleinsake-ondernemings en entrepreneurs help om hulle voet in die sake-deur te kry, deur vir hulle die geleentheid te bied om hulle besigheidsprofiel op die AHi se besigheidsplatform, www.ahibusiness.com, te plaas. Om aan te sluit by die AHi, kontak ons.