Ons gesels met Ilse Lochner, voorsitter van Clanwilliam Sakekamer en Direkteur van AHi Wes-Kaap, wat al jare lank betrokke is by die AHi.
Wie is vir jou ’n rolmodel in die sakewêreld?
Beslis Jannie Mouton van PSG. Jannie is op 48-jarige ouderdom by sy firma SMK as besturende direkteur in die pad gesteek. Uit hierdie donker gat, staan hy op en begin saam met ’n paar ander vriende PSG en bou dit uit tot die reuse maatskappy wat dit vandag is.
In vandag se tyd, waar daar baie op entrepreneurskap gefokus word, is sy storie vir enige iemand ’n voorbeeld om na te streef. Moed, deursettingsvermoë, kreatiwiteit, waagmoed, geloof in jouself en ja selfs ’n bietjie hardegatgeit! Dit is alles eienskappe waarop ’n goeie entrepreneur moet fokus. Lees gerus Jannie se boek: “En toe fire hulle my”
Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek lees graag. Iets waarvoor ek min tyd gehad het in my “hotel-dae”. Ek het nie ’n gunsteling skrywer nie, maar lees wyd oor onderwerpe waarin ek belangstel van speurverhale, geskiedenis, ensovoorts.
Een van Jannie Mouton se gesegdes wat lees aan betref is:
“As jy kan lees en nie lees nie, is dit so goed soos iemand wat glad nie kan lees nie!”
Verder oefen ek graag, my gym- en pilatusklasse mis ek nie graag nie. My groot passie is egter om te toer en dit met stap te kombineer.
Wat is nog alles op jou toer “bucket list”?
Dit is ’n moeilike vraag, want ek het ’n lang lys! Op die oomblik is Turkye en Bulgarye eerste op die program en hopelik tweede ’n staptog langs die wildekus. Dan moet ek nog die gedeelte van die Camino wat ek nog nie gestap het nie klaar maak!
Wat is jou gunsteling of moeilikste staproete in die Cederberg?
Gunsteling en moeilikste – die roete via Pakhuispas, Boontjieskloof Hut, Crystal Pools en eindig in Algeria. Dis ’n drie-dae stap, oorslaap in die veld, definitief nie vir sissies nie, maar ’n wonderlike bevredigende ondervinding.
Die Cederberg bied ongelooflike stapervarings wat ons nie altyd benut nie en ek wil almal uitdaag om vanjaar ten minste een van hierdie uitdagings aan te pak! Jy sal nooit spyt wees nie en ’n gevoel van “achievement” ervaar.
Iets om mee te begin is moontlik die Cederberg Heritage Route wat deur Michelle Truter hanteer word.