Die AHi het op 18 September 2019 sy jaarlikse gesprekke met SALGA (South African Local Government Association) gevoer om probleme tussen die sakesektore in die Wes-Kaap en Wes-Kaapse plaaslike munisipaliteite op die tafel te plaas en oor moontlike oplossings te onderhandel.
Die uitskakeling van rompslomp en die gemak van besigheid doen bly verseker die grootste uitdaging. Dit sluit ook die volgende aspekte in:
- Dringende oorsig van die regulatoriese las op klein ondernemings is lankal agterstallig.
- Vereenvoudig die wetgewende vereistes en bemagtigingsraamwerke vir klein besighede.
- Vergemaklik die beperkende arbeidswette vir klein besighede.
- Die inligting wat beskikbaar is vir KMO’s is onvoldoende.
- Al die inligting wat iemand nodig het om ‘n besigheid te begin moet maklik in een sentrale platform beskikbaar wees.
- Korrupsie moet aangespreek word as ‘n saak van dringendheid.
- Raak ontslae van kaderontplooiing.
- Die regering het meer gefokusde strategieë nodig om hoë vlakke van misdaad in die land te hanteer.
- Aansporings vir hoë-tegnologie entrepreneuriese ondernemings moet voorsien word.
Die AHi besef om bogenoemde aksies suksesvol aan te spreek moet daar sterk vennootskappe tussen regering en privaatsektor gebou word om daadwerklike planne te implementeer. Rolle sal ook uitgeklaar moet word asook aanvaarding van verantwoordelikhede.
Vir hierdie doel sal die AHi op 14 en 15 November 2019 ’n werkswinkel in George aanbied waar daar onder andere gesprekke met munisipaliteite se LED Bestuurders, Plaaslike Gemeenskaps Besigheids Assosiasies van die Tuinroete streek, formele sakekamers in die Wes-Kaap, AHi Direksie en Uitvoerende Bestuur gevoer word. Professor Frederick Fourie van die Vrystaatse Universiteit sal die werkswinkel fasiliteer. Die doelstellings van dié werkswinkel is om opnuut te kyk na die AHi se besigheidsmodel vir 2020 en daarna met die fokus op inklusiewe groei en werkskepping in die Wes-Kaap.
Mentorskappe vir volhoubare besighede bly ’n groot prioriteit vir die AHi en is daar alreeds 27 kundige mentors oor die Wes-Kaap provinsie op die AHi databasis geregistreer. Diegene wat wil deelneem aan ons mentorskap-programme moet asseblief so gou moontlik kontak maak met die AHi om te registreer.
SAAM BOU ONS VOLHOUBARE WELVAART.
AHi Groete
Dr Willie Cilliers